’n MIV en VIGS Gelofte
(Aanpassing van 'n gelofte gebruik by die uitreiking van die video: The URCSA Cares)
Leier: In dankbaarheid verbind ons onsself aan ’n gemeente wat omgee, haar beywer vir geregtigheid en wat versorgend wil wees.
Gemeente: Ons kom ooreen om ons te verbind aan God en aan mekaar.
Leier: Soos God ons liefhet en vir ons sorg, sal ons ook vir mekaar daar wees.
Gemeente: Ons verwelkom in ons gemeente en ons kerk almal wie se lewens deur MIV-infeksie geraak is en wat met MIV leef. Ons sê dit aan almal: Soos God ons in sy verbond verwelkom, verwelkom ons julle in ons gemeente.
Leier: Ons is ’n gemeente wat geregtigheid nastreef.
Gemeente: As gemeente sal ons alle vorme van diskriminasie teen mense wat met MIV en Vigs leef, teenstaan.
Leier: Ons is ’n gemeente wat versorgend wil lewe
Gemeente: Ons sal mekaar versorg en liefhê soos God ons in Christus liefgehad het. Ons sal bid vir die genesing van God se skepping. Ons sal Christus se teenwoordigheid in mekaar se lewens wees, veral in die lewens van diegene wat met MIV en vigs leef. Ons sal getuies wees van God se onvoorwaardelike liefde.
Leier: Deur die voorbeeld van Christus is ons sterker in geloof, edeler en sagmoediger van gees
Gemeente: Deur Christus die Verlosser en die krag van die Heilige Gees en God se goedheid en genade, is ons vrygemaak om onvoorwaardelik lief te hê, te dien, te getuig en om te gee.
Leier: Laat ons dan nou saam, as mense van God, plegtig belowe.
Gemeente: As lede van die liggaam van Christus, beloof ons saam in die Naam van God, om mense wat met MIV en vigs leef daarvan te verseker dat hulle nooit ons Christelike liefde, sorg en deernis sal ontbeer nie. Ons beroep ons op Christus se woorde in Mattheus 25: "Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; siek, en julle het My besoek." Ons sal ons belofte gestand doen: Ons moet staan waar God staan.
Leier: Gaan en volg Christus!




