Ambassadeurs van God se Versoening in 'n Stukkende Wêreld

NULL
Bible Book: 
2 Corinthians / 2 Korintiers
Chapter: 
5
Verse: 
16
Verse (to): 
21

Teks: 2 Korintiërs 5:16-21


Daar is 'n versoening-hongersnood in die wêreld waarin ons leef.

Dat mense met God en met mekaar versoen moet word, is vandag net so nodig soos in die tyd wat Paulus die brief (2 Korintiërs) geskryf het. Die boodskap dat ware versoening van God kom wat “deur Christus die wêreld met Homself versoen het”, is na 2,000 jaar steeds relevant. Jy hoef nie 'n sosiale of politieke wetenskaplike te wees om die behoefte aan versoening op verskillende vlakke in die wêreld raak te sien nie.

Dit is net so vanselfsprekend dat kerke en Christene dwarsoor die wêreld van versoening weet. Die boodskap van versoening word inderdaad voortdurend en selfs oordadig verkondig.

As die voorafgaande stellings waar is – waarom is daar dan steeds 'n versoening-hongersnood in die wêreld?

Toe ek 2 Kor 5:16-21 met hierdie vraag in gedagte gelees het, het dit my opgeval dat Paulus sê dat God hom “die bediening van die versoening toevertrou” het (vers 18). In vers 19 beklemtoon hy dit weer: “Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou”. Dan maak hy die gevolgtrekking: “Ons tree dus op as gesante van Christus” (vers 20a). (Baie Engelse vertalings gebruik hier die woord “ambassador”.)

Paulus het verstaan dat dit nie genoeg is om net 'n boodskapper van die boodskap van versoening te wees nie. 'n Ware boodskapper van versoening word 'n ambassadeur. Die boodskap van versoening moet beliggaam word. Dit is eerstens beliggaam toe Christus “vir almal gesterwe” het (vers 15). Dit is ook beliggaam toe Paulus homself aan die mense van Korinte gegee het.

Ek het binne die konteks van die vigspandemie geleer dat 'n boodskap van versoening wat net uit woorde bestaan, nie genoeg is nie. Die mure van stigma, self stigmatisering, vrees, beskuldigings en vele meer word nie deur woorde alleen afgebreek nie. Dit kan egter oorwin word wanneer versoening beliggaam word deur ambassadeurs van God se versoening.

Wat die wêreld waarin ons leef werklik nodig het, is meer Christene wat God se versoening lééf. Is dit nie wat Paulus bedoel wanneer hy sê: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens” (vers 17)?
Om oor na te dink (of te bespreek): Wat sien mense in my (ons) lewe(ns) – iemand (mense) wat net oor versoening praat of iemand (mense) wat deur God se versoening verander is?
Author: 
N du Toit (Ds)
Language: 
Afrikaans
Share this