Year A (2010-2011)
Bible Book: Daniel
Chapter: 12
Verse: 1
Verse (to): 3

Daniël 12:1-3

Wanneer Victor, die jongman met leukemie in die film “Dying Young”, vir die soveelste keer weer begin siek word, sien hy nie kans om weer vir behandeling te gaan nie. As hy so ver kom om sy diepste rede teenoor Hilary te verwoord, sê hy hy is bang. Nie vir die verskriklike newe-effekte van die terapie nie, nie vir die dood nie, maar … hy is bang om te hoop!

Daniël 11 teken ‘n donker tyd. In 12:1 word dit so opgesom: “Dit sal ‘n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie.” Hierdie aankondiging van die profeer is nie sonder troos en sonder hoop nie. Wanneer die profeet die komende verdrukking op sy donkerste teken, breek die lig van hoop helder deur – die belofte van die ewige lewe!

“In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan” (12:1b,2a).

Die hoop wat die Woord aan ons gee, is gegrond in die wete dat God selfs in die donkerste tye nog in beheer is. Dat Hy nie sy mense aan hulleself en aan hulle omstandighede oorlaat nie. God gryp in sodat die “koning van die noorde” skielik sterf (Daniël 11:45). God hou vas, sodat sy mense gered word (12:1b). God beloof die ondenkbare – die opstanding uit die graf (12:2a).

Daarom mag ons bly hoop en mag ons die hoop verkondig. Want ons het die God van Daniël by die kruis van Christus en sy leë graf nog beter leer ken. Juis in hierdie tyd wat MIV en vigs die hoop in baie mense en selfs families en gemeenskappe kom smoor, moet ons die lig van die Christelike hoop helder laat skyn.

Die vorige twee Sondae se Skrifgedeeltes uit Markus 12 het ons reeds gehelp om as gelowiges draers van hierdie hoop te wees. Dissipels van Jesus is volgens Markus 12 mense wat die “grootste gebod” ontdek het en daarom God en hulle naaste – ook die weduwees wat sonder heenkome is – liefhet.

 

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans