Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 18/11/2011 – 11:45
Year A (2010-2011)
Bible Book:Joshua / Josua
Chapter:5
Verse: 9 – 12
Josua 5:9-12

Die inleidende opmerking tot die “liturgiese voorstel” van Michiel Strauss maak dit maklik om die relevansie van Josua 5 (met die klem op vers 9 en die verband met die ander RCL tekste) raak te sien. “Die deurlopende tema van die tekste is een van mense wat smaad (Jos 5) verduur het, skaamte en selfverwyt (Luk 15) beleef het, wie se krag as gevolg van hulle eie toedoen opgedroog het (Ps 32) en toe die wonder beleef het dat alles nuut geword het toe God in hulle lewens ingegryp het (2 Kor 5)” (Preekstudies met liturgiese voorstelle – BUVTON, 2003 – 2004, bl 115).

Terwyl die ander tekste vanuit die individu se verhouding met God gelees kan word, het Josua 5 ‘n duidelike klem op die volk. Om van hulle smaad bevry te word en in die beloofde land tuis te kom, was vir die Israeliete ‘n “gemeentelike” ervaring. Die hele nasie is saam besny en almal deel in die pasga.

As God sy mense deur die Jordaan die beloofde land inlei en verklaar dat Hy hulle smaad van “weggeloopte slawe en woestynswerwers” wegneem, hoeveel meer sal Hy nie deur sy Seun ons van alle vernedering wil bevry nie? (“Smaad” en “stigma” is nie sinonieme nie, tog is daar ‘n mate van oorvleueling in betekenis.)

In ons land, waar daar soveel onderlinge spanninge tussen mense is (as gevolg van ras, MIV/Vigs stigma, rykdom-armoede, seksuele oriƫntering, ensovoorts) kan die Woordverkondiging oor hoe wonderlike dit is om van jou smaad verlos te wees en binne God se genade tuis te kom, nie nalaat om hierdie spanninge ter sprake te bring nie. Wie die wonder van sondevergifnis, vryspraak en nuwe lewe deur Christus ontvang het, maar wat nog steeds in die oƫ van ander gesmaad word, het nog nie werklik tuisgekom soos wat die Bybel daaroor praat nie.

Daarom sal ons as volgelinge van Jesus op hierdie LAETARE (“wees bly”) lydenssondag ons nie sonder meer in ons verlossing deur Christus se kruisdood kan verbly sonder om te vra of ander gelowiges ook onder ons sal tuiskom nie?

Gesamentlike vreugde en die vreugde van aanvaarding van mekaar is ware verlossingsvreugde.

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans