Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 08/10/2010 – 15:07
Year C (2009-2010)
Bible Book: 2 Timothy / 2 Timoteus
Chapter: 2
Verse: 8 – 10

Paulus se tweede brief aan Timoteus kan vergelyk word met ’n gebeurtenis waar ’n sterwende man almal naby aan hom na sy bed roep om ‘n finale gesprek met hulle te voer. Om sy lewe af te sluit het hy nodig om daaroor na te dink en om laaste instruksies te gee.

Dit is in ’n soortgelyke situasie wat Paulus vir Timoteus sê: Onthou Jesus Christus (vgl die NIRV: “Remember Jesus Christ”).

Paulus se evangelie is “Jesus Christus, ’n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek” (v 8). Baie jare vroeër het Paulus verklaar dat die fokus van sy verkondiging was “om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde” (1 Kor 2:2).

Nou herinner Paulus vir Timoteus en al die lesers van hierdie brief om te onthou dat Jesus uit die nageslag van Dawid gekom het. Hy was ’n historiese persoon en Hy is ter wille van ons gekruisig, maar Hy is ook uit die dood opgewek.

Wanneer ons onthou dat Jesus ’n historiese persoon was wat as mens geleef het en wat aan die kruis gesterf het, moet ons terselfdertyd onthou dat hy die enigste persoon is wat nie deur die geskiedenis ingeperk is nie.

Paulus se gevangenskap en die moontlikheid van ’n teregstelling (vgl 4:6) beklemtoon die werklikheid daarvan dat die boodskap van die evangelie ook deel is van die geskiedenis van die wêreld. Daarom kan die boodskappers geboei en selfs vermoor word. Maar, net soos Jesus Christus nie deur die geskiedenis ingeperk kon word nie, kan “die woord van God nie geboei word nie.” (v 9b).

Wanneer Paulus dit onthou vind hy krag en moed in sy omstandighede. Daarom is hy gewillig om alles te verdra “sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry” (v10 – 1953 vertaling), want hy weet die uiteinde is “die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid” (v 10 – 1983 vertaling).

Dink na oor (of bespreek) die volgende stelling: “Die evangelie van Jesus Christus, ’n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek, kan nie deur die MIV en vigspandemie ingeperk word nie.”

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans