RIMenuButton        DBMenuButton           

Die Kerk Moet God se Liefde na ’n Stukkende Wêreld Uitstraal

Share this
Bible Book: 
Revelation / Openbaring
Bible Chapter: 
21
Bible Verse From: 
1
To Verse: 
8

SKRIFLESING: Openbaring 21:1-8


Geliefdes in die Here,
’n Interessante ding gebeur onlangs met my. Ek sit by ’n sinode-sitting in Swaziland. Die grootste persentasie van ons tyd sit ons gemeenteverslae en bespreek. My gemeente is tweede aan die beurt. Een van die verslae het ek self geskryf – dit handel oor ’n projek wat ons aan die gang het in Swaziland waardeur ons met ’n tuisversorgingsprogram by mense wil uitkom wat HIV-positief is. In die verslag het ek regtig probeer om met passie te vertel van die pad wat die Here met ons geloop het en hoe Hy vir ons deure oopgemaak het om hierdie werk te kan doen.

Toe die verslag klaar gelees het, daal daar ’n stilte oor die mense. Skielik steek iemand sy hand op. Die voorsitter beduie dat hy kan praat: “Dis wonderlik wat julle besig is om te doen, dat julle mense in hulle nood help, vir hulle kos en klere en medisyne gee, dat julle selfs bereid is om mense te was wat nie meer die krag het om dit self te doen nie. Maar ek dink julle maak ’n fout: Julle moet eers die evangelie aan hierdie mense verkondig sodat hulle tot bekering kan kom voordat julle hierdie ander werk doen.”

Dit voel vir my of iemand my ’n hou in die maag gegee het. Hoe lank nog, vra ek myself, voordat ons gaan verstaan dat God by die mens in sy volle wese betrokke wil wees. Dat God nie daarop uit is om ons siele te red nie, maar dat God in ons as totale mense belangstel – meer nog, dat God in die wêreld, in sy hele skepping belangstel.

Terwyl ek daar by die sinode is, sit ek ’n artikel en lees wat ek saamgeneem het om in ’n aftydjie te bestudeer. Dit begin met ’n aanhaling uit ’n boek van Dr Myles Munroe, leraar van die Bahamas Faith Ministries. Vry vertaal na Afrikaans skryf hy: “Die Christene van ons tyd, wat eerder daarop ingestel is om na die hemel te ontsnap as om betrokke te raak in die nood van die wêreld, is self verantwoordelik daarvoor dat die kerk irrelevant geword het, vir baie mense ’n bespotting in plaas daarvan om ’n simbool van verlossing te wees.”

Dan reageer die skrywer van die artikel op hierdie aanhaling deur te sê dat jou eerste reaksie, as jy dit lees, is om kwaad te word. Jou tweede reaksie is om te wonder waarom jy kwaad geword het. Jou derde reaksie is die besef dat jy kwaad geword het omdat dit so naby aan die waarheid is – byna soos ’n tandarts wat te naby aan die senuwee kom in ’n poging om die kwaad weg te boor.

Is die kerk nog relevant in die wêreld van vandag? Maak die kerk, maak hierdie gemeente, genoegsaam ’n verskil in die wêreld dat mense voel dat hulle nie daarsonder kan klaarkom nie? Dis ’n vraag waarmee ek persoonlik al hoe meer worstel. Die vraag wat ek oor en oor vir myself afvra is: As my gemeente om een of ander rede sou ophou bestaan, sal die gemeenskap dit voel? Gaan dit vir die gemeenskap ’n verlies wees as my gemeente sy deure moet sluit? Want, en dit behoort ons mos almal al teen hierdie tyd te weet, die kerk bestaan nie ter wille van homself nie. Die kerk bestaan weliswaar uit gelowiges, maar die kerk bestaan nie vír die gelowiges nie. Die kerk bestaan ter wille van hulle wat nog buite is. En wie dit nie begryp nie, verstaan nog nie veel van hoe God se hart klop nie.

Openbaring is nie, soos wat baie mense geneig is om te dink, ’n boek met allerhande voorspellings oor wat in die toekoms gaan gebeur nie. ’n Groot deel van Openbaring beskryf eintlik gebeure wat reeds gebeur het, maar plaas hierdie dinge net binne ’n geestelike perspektief, sodat ons, as’t ware, kan leer om met God se oë na dinge te kyk wat hier op aarde gebeur. Openbaring leer vir ons byvoorbeeld dat ons stryd, soos Paulus dit in Efesiërs stel, nie in die eerste plek teen vlees en bloed is nie. Die stryd is eintlik tussen Jesus Christus en Satan, maar Goddank, hierdie stryd is reeds oorwin. Al wat ons nou voor wag is dat die laaste trompet sal klink, wanneer Christus die duiwel sy finale nekslag sal toedien.

Dit is waar. Openbaring 21 wek juis hierdie gevoel van afwagting by ons op. Maar wat van die tussentyd? Is daar dan geen troos vir ons wat vandag om een of ander rede treur nie?

Die meeste van ons sien steeds in ons geestesoog dat ons eendag, met die wederkoms, van hierdie bose aarde weggeneem sal word om saam met Jesus in die hemel te wees. Openbaring 21 skilder egter vir ons ’n ander prentjie – ’n prentjie van God se liefde vir hierdie aarde wat Hy geskep het, ’n liefde só groot dat Hy selfs met die wederkoms hierdie aarde nie tot niet maak nie, maar dit núút maak, sodat ons daarop kan bly voortleef.

Ons het nie nodig om baie ver te soek om redes te vind waarom dit noodsaaklik is dat hierdie wêreld soos ons dit ken nuutgemaak moet word nie. Die onderwerp waaroor die meeste van ons nie uitgepraat kan raak nie, is die hoë voorkoms van misdaad. Maar wat dalk nog meer katastrofies is, is die wyse waarop die natuur tot niet gemaak word – die gat in die osoonlaag, aardverwarming, oseane wat stelselmatig al hoe hoër styg. En dan, as ons bietjie rondom ons kyk, sien ons ook die lyding raak van letterlik miljoene der miljoene, wat besig is om dood te gaan as gevolg van VIGS.

Onlangs het die Suid-Afrikaanse regering ’n verslag vrygestel waarin hulle die sterftesyfer van 2004 vergelyk met die syfers van 1997. Vir diegene in hulle twintigs en dertigs, het die sterftesyfer in sewe jaar se tyd in sommige gevalle meer as vervyfdubbel. Geen wonder dat begrafnisondernemers soos paddastoele oral hulle verskyning maak nie.

1000 mense sterf daagliks in Suid-Afrika as ’n direkte gevolg van VIGS. Hierdie syfer is erg genoeg. Maar dink vir ’n oomblik hoeveel mense deur hierdie sterftes geraak word. Daar is ouers en kinders, broers en susters, ooms en tantes, neefs en niggies, bure en ander vriende. Selfs al sou elke sterte net 50 mense direk raak, dan is daar vandag 50000 mense in Suid-Afrika wat gaan treur, oor wie se wange die trane gaan loop as ’n direkte gevolg van VIGS - dit, sonder om diegene te tel wat as gevolg van ander oorsake sterf.

Ek het onlangs in Swaziland met die hulp van ’n groep jongmense van huis-tot-huis beweeg met ’n vraelys. Een van die vrae wat ons gevra het, was: “Het daar gedurende die afgelope twaalf maande iemand in hierdie huis gesterf?” In 50% van die huise was die antwoord “ja”. Kan jy jou indink wat dit aan ’n gemeenskap doen, as die helfte van die huise in ’n jaar se tyd iemand aan die dood moet afstaan? Vir elke twee huise wat jy sien, weet jy dat daar in die afgelope jaar in minstens een van die huise ’n sterfte was.

Maar dan, te midde van al die seer en trane wat ons rondom ons sien, lees ons Openbaring 21: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Vir die eerste keer in die boek Openbaring hoor ons God se eie stem. Daar is baie oor God geskryf in hierdie boek. Dikwels het die engele gepraat. Somtyds was dit ander mense gewees wat gepraat het. Maar nou, vir die eerste keer is dit God self wat aan die woord is, en hierdie woorde vertel vir ons onmiddellik waar God se passie lê - by sy kinders - soveel so dat God nie meer daar ver wil bly nie. Hy maak sy woonplek tussen sy kinders. En hier, op hierdie nuutgemaakte aarde, wat nou ook God se woonplek is, neem Hy elke vorm van smart en pyn en lyding weg.

Daar is ’n wonderlike troosboodskap in hierdie paar verse vervat. In die eerste plek net die wete dat die swaarkry wat ons so dikwels op aarde beleef, nie vir altyd sal voortgaan nie. Iewers vorentoe in die donker tonnel sien ons lig. Dinge gaan weer beter word.

Maar wat van vandag? Dis alles goed en wel om uit te sien na eendag, wanneer Jesus weer sal kom om die trane af te droog. Maar wat van vandag, wanneer ek voel asof die hele wêreld tot stilstand gekom het as gevolg van een of ander tragedie. Is daar dan nie troos vir so ’n persoon nie?

Ja, daar is. Daarvoor gebruik God vir jou en vir my? Ek en jy, wat eerstehands kan getuig van God se barmhartigheid – ons moet reeds hier op aarde besig wees daarmee om iets van hierdie wonderlike nuwe aarde te laat deurskemer, al is dit hoe gebrekkig. Wie ervaar het hoedat God sy trane afdroog, kan nie anders as om ander se trane te wil afdroog nie. Wie ervaar het dat God sy pyn wegneem, kan nie anders as om ander se pyn te wil wegneem nie. God maak ons deel van sy plan om die wêreld nuut te maak.

Natuurlik weet ek dat al ons pogings op aarde om dinge beter te maak, maar ’n skamele bydrae is in vergelyking met wat God gaan doen op die dag van die wederkoms. Maar elke keer wat ek iets doen om van hierdie aarde ’n beter plek te maak, elke keer wat ek iemand vertroos wat swaarkry, is ek besig om soos ’n spieël God se liefde na die wêreld te weerkaats.

Iemand het onlangs vir my gesê dat God die Bybel aan die kerk gegee het en toe het God die kerk aan die wêreld gegee. Die wêreld lees nie die Bybel nie. Hulle gaan nooit van God se liefde hoor nie, behalwe as ons soos ’n spieël gaan word wat hierdie liefde na die wêreld toe gaan weerkaats.

Wat is jy besig om te doen om van hierdie wêreld ’n beter plek te maak? Wat is jy besig om te doen sodat hulle wat die Here nog nie ken nie, Hom kan begin raaksien?

Wat het Jesus gedoen sodat die wêreld waarin Hy destyds beweeg het, vir God kon raaksien?

Op ’n dag het Johannes die Doper, terwyl hy as gevangene in die tronk sit, begin twyfel of Jesus werklik die Messias is. Toe stuur hy van sy volgelinge na Jesus toe met die vraag: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?”

Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.”

Wat doen jy sodat mense wat twyfel kan sien dat die Here leef?

Amen.
Sermon Language: 
Afrikaans
Sermon Author: 
A van Wyngaard (Dr)