Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 13:52
Year C (2009-2010)
Bible Book: Acts / Handelinge
Chapter: 10
Verse: 34 – 43

Daar is min van Jesus se dissipels van wie daar soveel in die verhaal van Jesus se kruisiging en opstanding vertel word as van Petrus. Toe dit begin lyk of Jesus se verhoor voor die Sanhedrin lewensgevaarlik word, was hy die een wat Jesus in die openbaar verloën het (Luk 22:54-60). Toe die vroue kom vertel van ‘n leë graf, het hy daarheen gehardloop (Luk 24:12). Met hom tree Jesus in gesprek by die meer en gee hom geleentheid om sy liefde drie maal te bevestig (Joh 21:15-17). In Jerusalem is dit Petrus wat opstaan om die skare toe te spreek en hulle oproep om die opgestane Heer te erken (Hand 2:14).

Hierna is Petrus verskeie kere die een wat die boodskap van Jesus se opstanding uit die dood verkondig (Hand 3:12ev; 4:8ev ).

In Handelinge 10 sien ons dat Petrus (wat getuie was van die opstanding en wat dit al dikwels verkondig het) nodig gehad het dat die Here hom verdere implikasies van Jesus se opstanding uit die graf moes leer. Met die gesig wat Petrus op die dak ontvang het, was die les reeds gegee. Maar Petrus kom eers tot nuwe insig wanneer hy ontdek dat God in mense se lewens werk wat hy voorheen as buite die kring van God se genade geag het.

Dit was eers toe Petrus se oë oopgegaan het vir die genadige wyse waarop God in Cornelius, die Romeinse soldaat, se lewe ingegryp het, dat hy uitgeroep het: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie” (Hand 10:34).

Die wonder van die Paas-evangelie is vandag nog die boodskap van die opstanding van Jesus uit die graf. Die “gevaar” is dat ons die boodskap al so goed ken dat ons ons nie meer daaroor verwonder nie. Daarom is dit nie vreemd nie dat ons so maklik weer grense trek waar ons meen God se genade geld en waar nie.

Gelukkig kan ook ons (soos Petrus) die wonder van die Paas-evangelie herontdek (of die implikasies daarvan die eerste maal verstaan) wanneer ons die onverwagse, onwaarskynlike deurbreek of uitbreek van God se genadewerk sien – juis daar waar ons grense daarvoor getrek het.

Iets van hierdie “onverwagse en onwaarskynlike” gebeur wanneer die boodskap van die opstanding van Jesus binne die konteks van die vigspandemie heling en hoop bring. Wanneer die verkondig word deur persone wat met MIV leef en beaam word deur mense wat siek is.

Hieroor kan ons ons verwonder.

Geseënde Paasfees!

Om oor na te dink (of te bespreek): Het jy al die deurbreek of uitbreek van God se genaderwerk gesien of ervaar?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans