Die Zuma-Hofsaak. 07/05/06

Hoe word die vigsbekampingsveldtog deur Zuma se optrede en uitsprake beïnvloed? 

Artikel deur Nelis du Toit, Verskyn onder die titel "Zuma wen... Wie't verloor?" in die Kerkbode van 26 Mei 2006 

Die opspraakwekkende hofsaak waarin die voormalige Adjunk-president Jacob Zuma van verkragting aangekla en vrygespreek is, is verby. Waarskynlik sal die stof rondom hierdie hofsaak binnekort gaan lê, maar die impak of effek daarvan sal nog lank by ons bly spook. 

Dit is daarom nodig dat ons wel nog oor hierdie gebeure nadink. Wat gedurende en rondom die hofsaak gebeur het, het nie in isolasie plaasgevind nie. Dit weerspieël iets van ons samelewing waarin dit afgespeel het. En nog belangriker: dit het 'n groot invloed op ons samelewing. 

Ten spyte van die regter se verklarings en ten spyte van Jacob Zuma se verskonings is daar 'n paar indrukke wat tydens die hofsaak geskep is en wat ‘n mens steeds bybly. Die volgende paar vrae leef voort in my hart:

Hoe veilig is vroue in ons gemeenskap?

Terwyl die hofsaak onderweg was, was daar al 'n gees van teleurgesteldheid by persone wat vroue en kwesbare mense se regte ter harte neem, te bespeur. Hierdie teleurgesteldheid hou verband met die wyse waarop Khwezi se menswaardigheid deur lede van die publiek aangetas is. Die indruk het bestaan dat die regsproses en veral die media ook hiertoe bygedra het. Ten spyte van die versekering wat die regter in sy uitspraak gegee het dat sy uitspraak nie die posisie van vroue voor die reg benadeel nie, bly die indruk dat vroue dit nou eerder moeiliker as makliker sal vind om 'n klag van verkragting te lê – veral as die verkragter bekend is aan hulle. Sonder om te veralgemeen, wil ek beweer dat as vroue na hierdie hofsaak minder veilig voel, sal daar ook mans wees wat na hierdie hofsaak die indruk het dat hulle nie so maklik tot verantwoording geroep kan word as hulle vroue verkrag nie.

Wanneer is seks verkragting? En is net verkragting 'n oortreding?

Na die afgelope hofsaak is ek opnuut onder die indruk dat die reg oor verkragting praat slegs wanneer duidelike “bakens” verby gesteek is. En hierdie definisie of duidelike bakens maak veral nie genoegsame voorsiening vir verkragting binne ‘n verhouding of deur iemand wat aan jou bekend is nie.   Dit wil voorkom asof  die afloop van hierdie saak die “bakens” van wanneer seks verkragting is, verplaas het. Na hierdie saak sal verkragting waarskynlik nie makliker bewys kan word nie.

Dit is jammer dat die regsproses in hierdie geval alleen oor verkragting as sodanig gehandel het.    Dat die regter vir Jacb Zuma op 'n persoonlike vlak oor immorele optrede geroskam het, was nie genoeg om die ernstige aard van hierdie optrede aan te spreek nie.

Word mense met mag bevoordeel bo mense sonder mag?

My indruk is dat die wyse waarop die hofsaak in nuusmedia rapporteer is en al die gebeure daar rondom verwarring oor die waardigheid van die vrou veroorsaak het, wat onder andere insluit:

  • haar gelyke status met die man voor die reg;

  • haar gelyke status teenoor die man in verhoudings;

  • haar reg om seks te weier;

  • die betroubaarheid van haar getuienis;

  • haar reg om teen enige vorm van ontmensliking beskerm te word.

Hoe mens ook al daarna kyk – daar was 'n mags-wanbalans die dag toe Jacob Zuma met Khwezi seks gehad het. Die indruk wat die hofsaak by my gelaat het, is dat Khwezi “uitgelewer word” aan “die beste regsspan wat geld kan koop” en dat sy hierdeur verder ontmagtig is. Ek verstaan dat 'n getuie se geloofwaardigheid getoets moet word, maar die wyse waarop Khwezi in die openbaar blootgestel is, het my ontstel. Die manier waarop mense buite die hof Khwezi se eer aangetas het, grens vir my aan verkragting van haar persoon en ek wonder steeds: waarom het dit so min openbare reaksie ontlok?

Die gevolg van al hierdie gebeure is dat mense – veral vroue wat in hulle verhoudinge 'n posisie van onmag beleef – ontmoedig word om geweld binne verhoudinge en spesifiek verkragting aan te meld. Dit dui na my mening op 'n onrusbarende bevestiging van onderdrukkende houdings en praktyke in ons gemeenskap. Vir 'n gemeenskap wat reeds worstel met persepsies dat manlikheid bewys word deur 'n vrou te onderwerp, is dit nie goeie nuus nie.

Die verhaal van MIV en vigs in Suider-Afrika bevestig dat baie vroue onderdruk word en dat seks dikwels binne hierdie konteks plaasvind. Té veel getroude vroue wat aan hulle mans getrou is, word met MIV geïnfekteer! Té veel jong meisies verklaar dat hulle eerste seksuele ondervinding teen hulle sin plaasgevind het! Té veel jong dames wat in 'n seksuele verhouding is, verklaar dat hulle bang is om “nee” te sê wanneer hulle maat seks wil hê!

Moes soveel verkeerde MIV inligting die wêreld ingestuur word?

Die vals inligting aangaande MIV en vigs en veilige seks wat gedurende die hofsaak uitgespreek is en by wyse van mediaberigte die wêreld ingestuur is, maak my baie onrustig. Enigeen wat erns maak met persepsies in gemeenskappe weet dat vals inligting rondom MIV en vigs soos 'n veldbrand versprei en dat korrekte en feitelike inligting met moeite aanvaar word. Dit sal veel meer as 'n paar regstellings en verskonings van Jacob Zuma vra om hierdie wanvoorstellings uit te wis. Pogings om korrekte inligting oor MIV en vigs aan mense deur te gee, is vir maande, indien nie jare nie, teruggesit.

Hoe het dit alles die stryd teen MIV en vigs beïnvloed?

My indruk is dat die belangrikheid van die vigspandemie deur die hofsaak en die gebeure daaromheen onderspeel is. Pogings om die samelewing te sensitiseer ten opsigte van moreel verantwoordelike en gesonde seksuele lewenswaardes, keuses en praktyke sowel as die uitdra van betroubare inligting, is ernstig benadeel.

Die koninkryk van God kry onder andere gestalte in gemeenskappe waar weerlose mense veilig is, waar seks uitdrukking van wedersydse liefdestrou is, waar reg en geregtigheid gesamentlik gesoek word en waar die belangrikheid van waarheid geag word.

Binne hierdie konteks het kerke en spesifiek kerkleiers die verantwoordelikheid vir die handhawing en uitbouing van 'n Bybelsverantwoorde morele en sedelike kultuur in Suid-Afrika. Dit sluit in dat alle mans en vroue (oud en jonk) en in die besonder alle lidmate opgeroep moet word om:

  • verantwoordelike en veilige seksuele keuses te maak;

  • alle medemense se menswaardigheid te respekteer;

  • ingelig te wees en betroubare inligting te gebruik.

Share this