Gebed vir Vigs Versorgers

Lewende God, ons aanbid u
as die God wat vir u mense sorg
as die Goeie Herder wat vir sy skape sorg.
U sorg vir ons en deur ons sorg u vir weerlose mense.
Ons bid vandag vir hulle wat sorg vir mense met MIV en vigs.
As hulle afgeskrik en ontmoedig word
deur die las van mense se lyding;
As hulle soms moeg word
en oorweldig is deur die omvang van mense se pyn,
die sleur van hulle armoede, hulle wanhoop –
Help hulle om te onthou:
U is met ons en u sorg en sal in ons behoeftes voorsien.
As hulle geloof in die mensdom wankel
wanneer mense met vigs verstote en veroordeel voel
en soos uitgeworpenes behandel word –
Help hulle om te onthou:
U is met ons en u sorg en sal in ons behoeftes voorsien.
Help hulle en help ons om instrumente van u sorg te wees:
Om versigtig te werk met die geknakte riet, die flikkerende vlam,
sodat die geknakte riet nie sal breek nie en die flikkerende vlam nie geblus sal word nie.
Om te doen wat ons kan vir weeskinders,
en vir hulle wie se lewens geknak of gebreek is deur vigs.
Om elke kosbare mens wat vir ons gegee word
met dieselfde liefdevolle geduld te hanteer
wat ons self in u hande van versorgende liefde ervaar.
Om onsself te verbind daaraan om te genees,
te help en op te voed sodat die vigs-pandemie in Suidelike Afrika oorwin kan word.
Help ons om ons ore oop te maak en soos dissipels te luister
wanneer U ons voortlei as ons Goeie herder, terwyl U vir ons sorg,
en deur ons, ook vir ander weerlose mense.
Amen
(Aanpassing en vertaling van “Dedication prayer for aids caregivers” voorgedra by die “SACBC La Verna Conference for AIDS caregivers from the dioceses of Southern Africa”, 24 – 26 Oktober 2001.)




