RIMenuButton        DBMenuButton           

Geskik om Deur God Gebruik te Word

Share this
Bible Book: 
1 Samuel
Bible Chapter: 
15
Bible Verse From: 
34
To Verse: 
13

1 Samuel 15:34 – 16:13


Vrees en stigma is 'n “tweeling” met ernstige (nadelige) gevolge. Samuel se vrees om doodgemaak te word, het hom laat huiwer om sy taak uit te voer (16:2). Hy het vergeet dat God groter as Saul is. Die seremonie om Dawid as opvolger van Saul te salf, het ook as gevolg van stigma langer geneem.

Ongelukkig is hierdie “tweeling” steeds onder ons werksaam en benadeel dit die lewens van selfs toegewyde Christene.

Toe Samuel Isai se seuns gereinig het (vers 5), was hy onder die indruk dat al Isai se seuns teenwoordig was. Isai het gedink dat Dawid te jonk en nie belangrik genoeg vir die seremonie was nie. Min het hy geweet dat dit eintlik Dawid se dag was.

Isai se houding teenoor Dawid word in sy antwoord op Samuel se vraag in vers 11 bevestig. In plaas van 'n eenvoudige “nee”, verklaar Isai dat Dawid die jongste is en nou skape oppas. Isai laat blyk dat hy hierdie seun nie waardig ag om Saul op te volg nie. Vir hom was die teenwoordigheid van Dawid by die seremonie nie belangrik nie. Maar die verhaal laat blyk dat hý God se gesalfde was (vers 12). Om dit te bevestig, het die Gees “van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk” (vers 13). Hieroor moes Isai verbaas gewees het.

Daar is 'n groot verskil tussen hoe God en Samuel gekyk het. Volgens 16:1 treur Samuel nog oor Saul, die koning wat deur God verwerp is. In vers 6 is hy opgewonde oor iemand wat indrukwekkend lyk, maar wat nie deur God gekies is nie. Sien ons nie dieselfde in ons kerke, gemeenskappe en werkplekke waar mense gestigmatiseer en teenoor hulle gediskrimineer word – bloot oor hoe hulle lyk of praat of as gevolg van hulle MIV status? Dit is tyd om eerlike selfondersoek te doen. Mag God ons vergewe en help om nuut te begin.

Die prestasies van Dawid behoort 'n oproep tot ons te wees. Ons wat so maklik mense – vir watter rede ook al – stigmatiseer, moet besef dat ons eintlik onsself benadeel. Die persone wat ons stigmatiseer mag juis dié mense wees wat God tot voordeel van ons kerke, gemeenskappe en ons persoonlike lewens wil gebruik.
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe behoort ons vrees en stigma te hanteer sodat ons normaal kan leef met mense wat met MIV en vigs leef?
Sermon Language: 
Afrikaans
Sermon Author: 
N du Toit (Ds)