Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 18/11/2011 – 12:05
Year A (2010-2011)
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 10
Verse: 20 – 30
Teks: Johannes 10:22-30

Nadat die Leesrooster (aan die hand van die RCL) die gemeente die afgelope Sondag laat luister het na Jesus Christus se oproep aan Petrus (die kerk) om sy kudde te versorg, bring dit ons hierdie Sondag by die wonderlike waarheid dat Christus self die Goeie Herder is. Op die vierde Sondag van Paastyd (“Jubilate = Juig!”, “Sondag van die Goeie Herder” en ook “Arbeidsondag”) word die gemeente deur Johannes 10:22-30 daaraan herinner dat die Opgestane Here (steeds) die Goeie Herder is. (Hierdie beklemtoning is nodig omdat die opstanding en hemelvaart- verhale ons maklik met die indruk kan laat dat Christus verhewe en daarom ver is.)

In Johannes 10:28-30 hoor ons van die wonderlikste beloftes van Jesus die Goeie Herder. Dis beloftes wat bemoedig en troos. Die versekering en troos van hierdie beloftes word deur die opstanding van Jesus uit die dood bekragtig.

Die bemoediging en troos van die Goeie Herder het ons juis in ons daaglikse lewe nodig – veral binne die arbeidsituasie. Nog meer het mense wat met MIV leef, dit nodig.

Orsmond (BUVTON se “Preekstudies met liturgiese voortstelle Advent 2003 tot Koninkrykstyd 2004”) wys tereg daarop dat die prediking van Christus as Goeie Herder deur die lewe van die gemeente bevestig moet word. “Dit moet deurgetrek word na die vleeswording van die Christus-belydenis, binne die geloofsgemeenskap en die wêreld. .. In die kerk se reaksie op die boodskap, sal dit duidelik word of sy self ‘n betroubare herder is vir die mense wat deur God geroep word om Jesus as Goeie Herder te volg.” Jesus sê immers self in vers 27: “My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My.”

Die beloftes van Jesus Christus is nie bedoel om ons tot stilstand te bring nie. Dis nie soos ‘n warm somerson waarin ‘n mens op ‘n wit strand lê en vakansie hou nie. Dis beloftes wat ons toerus om volgelinge van Jesus in die lewe van elke dag te wees. Om vir Hom te werk, te getuig en om in sy Naam hulle wat onder die skadu van MIV en vigs leef, te bemoedig en te troos.

Laasgenoemde kan die gemeente natuurlik net doen wanneer die gemeente ‘n oop hart vir MIV+ persone het.

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans