RIMenuButton        DBMenuButton           

Hoop — te Midde van Vigs!

Share this
Bible Book: 
1 Peter / 1 Petrus
Bible Chapter: 
1
Bible Verse From: 
1
RCL Year: 
Year A (2010-2011)

Teks: 1 Petrus

Hoop het in ons tyd 'n gewilde woord geword. Dat daar so dikwels van hoop gepraat word en daarna verwys word, vertel reeds hoe groot die behoefte daaraan is. Die impak van die vigspandemie het sekerlik hiertoe bygedra.

Vir baie is die beelde wat deur die woord “vigs” opgeroep word dié van 'n jong moeder op 'n eensame sterfbed of van talle weeskinders sonder heenkome. Dit was nodig om die nood wat vigs meebring deur skokkende fotos onder mense se aandag te bring, maar ongelukkig het juis dit daartoe bygedra om die indruk te skep dat vigs alle hoop verdryf. Daarom is die nuus dat jy MIV-positief gediagnoseer is, vir mense soos 'n doodsvonnis. Ons hoor hoe hulle vertel dat hulle lewens in daardie een oomblik alle betekenis verloor het omdat hulle van alle hoop gestroop is.

Toe Petrus aan die Christene van sy tyd geskryf het, het hy geweet dat die lewe vir hulle nie maklik was nie. Hy beskryf hulle as “vreemdelinge in die wêreld” wat “vespreid woon” (1 Petrus 1:1). Hy meld ook dat hy weet van hulle verskillende beproewinge (1:6) wat hy later as 'n “vuurproef” beskryf (4:12). Aan húlle skryf Petrus oor die lewende hoop wat hulle deur hulle geloof in Jesus Christus met hom deel. Met entoesiasme betuig Petrus aan hierdie gelowiges: ons het hoop! “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood” (1 Petrus 1:3). So bemoedig en troos Petrus hierdie Christene en ook vir ons deur ons aan die lewende hoop te herinner.

Gelowiges in Suider-Afrika, waar die vigspandemie soos 'n veldbrand woed, is bevoorreg om hierdie boodskap van lewende hoop uit te dra. Om van die lewende hoop te getuig – om draers van lewende hoop te wees – vra dat ons te midde van vigs weer die betekenis van hoop ontdek.

Lewende hoop onthou dat Jesus uit die dood opgestaan het. Sy leë graf is vir ons die teken van sy oorwinning oor die dood. Nou kan ons vanuit hierdie perspektief na ons omstandighede en na die toekoms kyk. Ons kan droom oor moontlikhede wat die beperkinge van ons bestaan deurbreek. Lewende hoop is egter méér as drome en visionering – dit is om te begin werk aan die realisering van nuwe moontlikhede. Al sou ons ook nie vandag of môre al dit waaroor ons gister gedroom het, realiseer nie, kan ons reeds tekens daarvan oprig. Bakens wat getuig dat ons op weg is na God se toekoms.

Hoop laat ons met Christus se oë na mense kyk – mense vir wie Hy aan die kruis gesterf het en vir wie Hy ook uit die graf opgestaan het.  Dan leer ons om die persoon agter die “MIV+” of “vigs” raak te sien. Hoop reik met liefde uit na hulle wat gestigmatiseer is, die eensames, en na hulle wat agtergelaat is en wat treur. Hoop skep die ruimte waar persone wat geïnfekteer en geaffekteer is met hulle behoeftes na vore kan kom. Om stories van pyn en van troos, van teleurstellings en van sukses te deel laat lydendes hoop ontdek.

Hoop laat verby grense wat gelowiges voorheen van mekaar gehou het, kyk. Sáám ontdek ons dat ons kan hande vat en kragte saamspan om weer en weer te werk om hindernisse te oorwin. Saam kan ons struikelblokke soos stigma en vrees oorwin.

Hoop leer ons (geaffekteerdes of geïnfekteerdes) positief lewe. Hoop laat jou verantwoordelikheid vir jou liggaam en lewe neem en om ook verantwoordelik op te tree teenoor mense met wie jy in aarnraking kom. Hoop laat ons sonder vrees vir verwerping 'n positiewe bydrae tot die gemeenskap lewer. Hoop is om te ontdek dat die waarde en betekenis van ons lewe nie net in sy lengte gemeet word nie. Hoop is om met menswaardigheid te sterf.

Hoop deel die goeie nuus in Jesus Christus!

Hoop bid saam met (en vir) geïnfekteerdes en geaffekteerdes in die woorde van Paulus: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”(Rom 15:13)

 

Sermon Language: 
Afrikaans
Sermon Author: 
du Toit N (Ds)