RIMenuButton        DBMenuButton           

Intersessie Gebed

Share this

Hemelse Vader, ons dink vandag aan alle mense wat deur MIV/VIGS geraak word.
Dit konfronteer ons met sake wat ons eerder sou wou vermy:
 
Dit konfronteer ons met chaos, verlies aan beheer en angs oor die gevolge van hierdie siekte vir die toekoms.
Here, hoor ons onsekerheid.
 
Dit konfronteer ons met die dood.
Ons word bewus van ons nietigheid en feilbaarheid.
Dit laat ons besef dat ons nie voluit kan lewe nie, voordat ons nie eers met die dood vrede gemaak het nie.
Here dankie dat U die dood oorwin het.
 
Dit konfronteer ons met ons liggame en seksualiteit.
Ons besef dat menslikheid en seksualiteit onlosmaaklik met mekaar verbind is.
U het ons so geskape.
Dankie dat ons in U Here Jesus die eenheid van Goddelikheid en menslikheid leer ken het en dat U ons seksualiteit kom verlos het en dit nie ontken nie.
Help ons om verantwoordlikheid en volgens U seksuele verhoudings aan te gaan.
 
Dit konfronteer ons met oordeel.
Ons staan voor U oordeel wat ons selfregverdigende gesindheid verwerp, wat alle pogins van ons kant om ander te veroordeel die nek omdraai en wat ons houding van morele meerderwaardigheid afbreek.
Here, U alleen kan oordeel, vergewe ons.
 
Dit konfronteer ons met vrees.
Ons vrees die virus wat soveel verwoesting saai.
Ons is ook bang vir almal wat anders is ons en anders as ons dink en redeneer.
Here, sien ons vrees en angs raak.
 
Hemelse Vader, dankie dat ons ook met U genade gekonfronteer word.
Ons vra dat U almal wat met die virus moet leef en almal wat aan hulle verbind is met U genade sal omvou.
Dankie dat U elke mens sonder voorbehoud liefhet en aanvaar.
 
AMEN