RIMenuButton        DBMenuButton           

Klaaggebed

Share this

In aansluiting by Psalm 88:2-11 en Habakuk 1:2-3.
 
Here, ons God, U wat altyd help, ons bid tot U.
Hoor tog ons gebed, hoor dit in Jesus se Naam.
MIV en vigs het swaar op ons land kom lê.
Vir baie is dit té swaar: soveel wat sterf;
soveel wat kragteloos is in die skaduwee van die dood.
Dis asof die lyn tussen lewe en dood uitgevee word.
Om dit te aanskou, is al te veel -
Om dit te ervaar, is te erg!
Dit voel soos om in 'n put te val -
Dit voel of dit U is wat straf -
Ja, dit voel of u ons oor en oor slaan!
Dit maak ons eensaam:
mense word bang en skaam.
Geliefdes word soos vyande.
Dit sluit ons toe in 'n tronk sonder hoop.
Here, ons roep soos blindes wat na lig verlang.
Ons roep soos dooies wat na lewe verlang.
Waarom dan, Here?
Hoe lank nog, Here?
Voordat U hoor, voordat U red?
Here, ons God, U wat altyd help, ons bid tot U.
Hoor tog ons gebed, hoor dit in Jesus se Naam.
 
Amen.