RIMenuButton        DBMenuButton           

Leiers wat God se Reg en Vrede Dien

Share this
Bible Book: 
1 Samuel
Bible Chapter: 
16
Bible Verse From: 
1
To Verse: 
13

Teks: 1 Samuel 16:1-13


In die breër konteks van die verhaal van 1 Samuel vertel hoofstuk 16:1-13 (die fokusteks vir Sondag) hoe God deur sy profeet 'n nuwe koning kies en begin voorberei (salf) om die huidige koning wat misluk het, se plek te neem. Daarom gaan dit om veel meer as die individue wat by name genoem word (Saul, Samuel, Dawid, ens) - dit gaan om Israel, die volk van God.

Israel soek 'n koning "soos dit by al die nasies is" (1 Sam 8:5). Samuel beleef dit as 'n verwerping van God as Koning van Israel, maar God gebruik dit as geleentheid om aan sy volk 'n koning te gee wat Hom as Koning kan verteenwoordig. Die verlange na 'n regverdige koning waarvan Ps 72 getuig (lees veral verse 2-5, 12-13), stem sekerlik ooreen met die bedoeling waarmee God Dawid kies en hom met sy Gees salf.

Al sou hierdie gedagtes nie in die prediking beklemtoon word nie, kan daar in die voorbidding gefokus word op die gemeente en gemeenskap se behoefte aan goeie leiers wat God se reg en vrede dien. Leiers wat nie sal aarsel om die saak van MIV geïnfekteerdes en geaffekteerdes te dien nie. Die volgende gebed mag van hulp wees.

“Drie-enige God, U het vir u volk Israel konings voorsien en deur u Seun Jesus Christus regeer U oor ons.
Ons wil ons vandag opnuut aan u as die enigste Koning in en oor ons lewens onderwerp.
Daarom bid ons:
Laat u koninkryk kom!,
            laat dit in en deur ons lewens gebeur
            dat ons woorde en dade mag getuig dat U ons Koning is.
Laat u koninkryk kom!
Salf die leiers in ons gemeente en in ons kerk met u Heilige Gees sodat hulle leiding u liefdevolle, genadige heerskappy sal verteenwoordig.
Begenadig die leiers in ons gemeenskap en land sodat ook hulle instrumente van u reg en vrede mag wees.
            Sodat mense wat swaarkry en seerkry u reg mag ervaar
            sodat verdruktes u beskerming en armes u hulp ontvang
            sodat almal mag bly wees oor die vrede wat U gee
            sodat alle mense U kan dien! (vgl Ps 72:2-5)
Laat u koninkryk kom!
           Sodat ook hulle wat deur MIV en vigs geraak is
            mag beleef dat ons leiers hulle nie vergeet het nie -
            maar hulle deur woord en daad daarvoor beywer
            om die wat om hulp roep en wat geen helper het nie te red
            om hulle oor die swakke en die behoeftige te ontferm
            om hulle wie se lewens vir ander waardeloos geword het, te beskerm.             (vgl Ps 72:12-13)
Drie-enige God, ons bid dat u koninkryk sal kom!
Amen.”
Sermon Language: 
Afrikaans
Sermon Author: 
N du Toit (Ds)