RIMenuButton        DBMenuButton           

Litanie

Share this

 

LITURG:                   Almagtige en genadige God, God van reg en regverdigheid en van vergifnis, Skepper en verlosser, U wat dit vir ons moontlik maak om te wees wie ons is, wat ons lewens elke dag stuur en rig.
GEMEENTE:           Ons kom voor U vandag namens ons broers en susters wie se lewens deur MIV/VIGS geraak word.
LITURG:                   Ons glo, Here dat op maniere wat bo ons vermoë is om ten volle te verstaan, U wil hê dat mense gesond in heel moet wees, in denke, liggaam en gees.
GEMEENTE:           Nogtans moet ons bely dat ons die gawe van heelwees wat ons van U ontvang het, nie volledig waardeer en respekteer nie.
LITURG:                   Ons beskou die lewe as ’n reg en vergeet dat dit ’n geskenk uit U hand is.
GEMEENTE:           U het ons geroep om ander lief te hê.
LITURG:                   Hiermee sukkel ons, omdat ons bevooroordeeld en eiewys is. So baie kere leef ons sonder om die nood van mense wat met die VIGS virus saamleef, raak te sien. Ons hanteer hulle op ’n afstand en nie as persone wat volgens U beeld geskape is nie. Soms weet ons nie eens van mense wat deur die virus geraak word nie, ten spyte van die oorweldigende getal mense met die virus in ons land.
GEMEENTE:           Ons wil ons aandeel tot die vereensaming van mense met die VIGS virus bely. Vergewe ons as ons hulle tot stilswye dwing vanweë die stigma wat ons aan die siekte heg.
LITURG:                   Gee wysheid aan almal wat meewerk daaraan om geneesmiddels te ontwikkel en gee aan die leiers van ons land ’n ware sin vir medelydende verantwoordlikheid in die hantering van hierdie pandemie.
GEMEENTE:           Help ons om mense van liefde en versorgende omgee te wees as ons U voorbeeld navolg, Here.
LITURG:                   Ons is bang en angstige mense wat lewe tussen bang en angstige mense. Tog troos U ons deur te sê dat ons nie bang hoef te wees nie want U het klaar oorwin.
GEMEENTE:           Daarom kom ons na U toe in nederigheid en vra dat U op ’n besondere wyse by mense wat deur hierdie virus geraak word, sal wees.
LITURG:                   Hoor ons gebed, o God,
AMEN