Submitted by Visitor (not verified) on Wed, 09/12/2009 – 14:16
Bible Book: Judges / Rigters
Chapter: 2
Verse: 11 – 23
Teks: Rigters 2:11-23

In hierdie gedeelte kom twee lyne na vore. Twee lyne wat dikwels in die Skrif ter sprake kom.

Aan die een kant is daar die lyn van sonde wat straf en swaarkry tot gevolg het. Israel doen die verkeerde deur die Baäls te dien (vers12) en daarmee hou hulle op om God te dien (vers13). Hierdeur word God vertoorn en gee Hy hulle oor aan hulle vyande (vers 14) sodat hulle baie swaar gekry het (vers 15). ‘n Mens sou dink dat Israel gou hulle “les sou leer” en terugkeer na die Here, maar die res van die gedeelte en die hele Rigterboek vertel dat hulle van kwaad na erger gegaan het. Die volgende geslag het erger as hulle voorvaders gehandel (vers 19).

Aan die ander kant is daar die lyn van God se bemoeienis met en ontferming oor Israel. Vers 16 trek hierdie lyn dwars oor die vorige een. God help sy volk deur leiers te stuur wat die vyande verdryf. Vers 18 verduidelik dat die Here dit gedoen het omdat Hy medelye met sy ontroue volk het wat deur hulle hartkoppigheid soveel swaarkry oor hulleself gebring het.

As mens na hierdie gedeelte kyk en verder deur die boek Rigters lees, wil dit nogal voorkom of die lyn van die sonde en oordeel swaarder weeg as die lyn van God se ontferming. Kyk ‘n mens rondom jou en luister jy hoe Christene praat, klink dit of daar algemeen aanvaar word dat die lyn van sonde en oordeel die laaste woord het. Wanneer mense swaarkry, soek ander die oorsaak in sonde. Dit kom nogal dikwels na vore in gesprekke oor vigs. “Vigs is God se straf oor mense se onsedelike gedrag”, word dan gesê.

Maar die Bybel eindig nie by Rigters nie. Paulus roep in Rom 6:23 uit: “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.” Jesus waarsku self in Lukas 13:1-5 dat ons nie te vinnig die lyn van ‘n ramp moet terugtrek na die “groot sondaars” nie.

Natuurlik bly dit waar dat die loon van die sonde die dood is. Dit is ook waar dat die Bybel herhaaldelik waarsku dat ons deur ongehoorsaamheid en eiewilligheid baie ellende oor onsself kan bring.

Die vraag is: is hierdie waarheid ons “stok om mee te slaan” of ons “staf om mee op weg te gaan”?

Tereg merk ‘n Bybelverklaarder op dat die boek Rigters ons help om ons eie sondige hart te verstaan. Wie sy/haar eie sondige hart ken, kan nie ander met “jy het met jou sonde jou ellende gesoek” slaan nie, maar sal medelye hê met mense wat swaarkry (vgl Rigters 2:18) – ongeag die skynbare redes daaragter.

In Christus het God se lyn van genade mos die lyn van die sonde ge-kruis.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans