RIMenuButton        DBMenuButton           

Nuus uit Swaziland

Share this

Uit ‘n nuusbrief van Dr Arnau van Wyngaard (Sendeling van die Ned Geref Kerk in Swaziland en leraar in die Swaziland Reformed Church):


Sien ook hulle webblad. 

"Ek wil graag iets met u deel wat hierdie naweek gebeur het. Ek moes Vrydag praat oor die teologiese betekenis van die nagmaal en daarna het ons ook saam die nagmaal gevier en Jesus se dood so herdenk. Net toe ons die kerkgebou verlaat, daag 'n span van Swaziland se nasionale TV op. Kort daarna het ons uitgevind wat hulle daar maak. Almal van u is bewus van die krisis waarin Swaziland verkeer as gevolg van die HIV/VIGS pandemie. Die nuutste syfers dui daarop dat 42.6% van die totale bevolking HIV+ is en dat 56% van mense in die ouderdomsgroep 25-29 jaar, HIV+ is.

Een van die koerante het besluit om 'n veldtog te loods om die eeue-oue Bybelse beginsel van seksuele reinheid weer te probeer propageer. As deel van die veldtog het hulle toe begin om jongmeisies te soek wat nog nie seksueel aktief is nie. Die slegte nuus is dat hierdie taak toe baie moeiliker was as wat hulle gedink het. Volgens kerklidmate wat met my daaroor gepraat het, is die kans om 'n meisie ouer as 14 te vind wat nog nie seksueel aktief is of was nie, 'n absolute raar verskynsel. Maar iewers het die nuus toe gekom dat daar 'n gemeenskap in die suide van Swaziland is waar Christelike standaarde nog verkondig en gehandhaaf word. Daar is 'n meisie van 20 jaar opgespoor wat bereid was om in die openbaar te verklaar dat sy nog 'n maagd is en trots is daarop asook 'n paar jonger meisies wat ook bereid was om dit te verklaar. Nadat die storie in die koerant gepubliseer is, het Swazi TV toe 'n span gestuur om met die ouer meisie 'n onderhoud te voer. Toe hulle by haar huis in die Matsanjeni omgewing opdaag, moes hulle hoor dat die familie nie daar is nie, aangesien hulle 'n Paaskonferensie ongeveer 15 km van Matsanjeni bywoon. Toe kom die span by ons konferensie uit. En die rede waarom ek hierdie nuus deel. is omdat hierdie meisie een van ons lidmate van ons gemeente op Matsanjeni is en die meeste van die ander jonger meisies na wie ek verwys het, is ook lidmate van ons kerk. En nou weet ek dat nie ek of ons kerk die eer hiervoor kan kry nie, maar Paulus het ook darem gespog oor die mooi dinge wat gebeur het in die gemeentes wat hy gestig het en ek voel werklik verskriklik trots op hulle. Die TV span het uiteindelik ook heelwat materiaal afgeneem van die res van die kerklidmate en ons moes inderhaas 'n koor bymekaar kry wat kon sing vir die nuus. Ek was ook deel van die koor. Ek het nie die uitsending gesien nie, maar ek kan my nogal indink dat die een "pale face" nogal prominent moes gewees het oor die hoofnuus!

Vir die meeste van julle wat hier lees sal die wonderwerk hierbo baie ver verwyderd wees van julle normale verwysingsraamwerk. Ons wat in ons gerieflike Westerse wonings bly, agter sekuriteitshekke en diefwering, het nie 'n benul wat die omstandighede is waaraan die jongmense van Swaziland, en veral die jongmeisies uitgelewer is nie. Daar word voortdurend druk op hulle uitgeoefen om toe te gee aan die vereistes van mans. Hierdie druk kom van familielede (ooms, nefies), van werkende jongmans met die aanloklikheid van geld, van mede-skoliere, ens. Dit is 'n leefwereld wat ons oor die algemeen ons net nie kan voorstel nie. Kyk mens na die syfers hierbo, dan leef jy in 'n gekke-paradys as jy nie dit wil glo dat ons op 'n rokende vuurspuwende berg sit wat enige oomblik tot uitbarsting kan kom nie. Te midde van hierdie krisis, is die wonderlike nuus egter dat Christen-gemeenskappe begin om 'n verskil te maak. Ek glo dit is nie net op Matsanjeni nie, maar dit is tans die een gemeenskap wat in die land uitgesonder word. Die Shabangu-meisie gaan nou as 'n rolmodel aangewend word om te probeer om ook ander jongmense in Swaziland se lewens te verbeter. (Terloops, haar ouer suster was 'n paar jaar gelede Mej Swaziland 2002, ook 'n lidmaat van ons kerk. Die gesin het dus 'n dubbele eer ontvang, hoewel ek persoonlik glo dat die tweede nog groter is as die eerste.)"