Statistiek in Perspektief. 3/8/2007
Statistiek - 'n Inleiding
As ons oor statistiek praat, veral as dit oor MIV en VIGS gaan, kla mense maklik dat statistiek verwarrend is, dat bronne mekaar weerspreek, of dat dit uit die duim gesuig word. Dit kan maklik so voorkom, veral waar statistiek sonder verwysing aangehaal word, of waar daar gese word dat "Hulle so sê". Om statistiek te evalueer, moet die volgende in ag geneem word:
A. Betroubaarheid van Statistiek
As mens statistiek se betroubaarheid evalueer is daar `n paar dinge wat in gedagte gehou kan word om die prentjie duideliker te maak:
1.Wat is die bron of oorsprong van die statistiek?
2.Watter metode is gebruik om die statistiek te bekom?
3.Wanneer is die statistiek gepubliseer, en vir watter tydperk is dit bereken?
Elkeen van hierdie items kan individueel oorweeg word, en gesamentlik behoort dit `n idee te gee van die betroubaarheid van die statistiek.
1.Wat is die bron of oorsprong van die statistiek?
Die betroubaarheid van statistiek kan direk in verband gebring word met die bron. Indien jy die organisasie wat die statistiek publiseer vertrou, kan mens gewoonlik ook die statistiek vertrou.
a. By die algemeenste toetse, bv Elisa, OrasureR ens. word daar nie vir die virus getoets nie, maar wel vir teenliggaampies wat aandui dat die individu blootgestel is aan die virus, en dat die liggaam teenliggaampies teen die virus gevorm het. Indien die teenliggaampies teenwoordig is kan mens dus veronderstel dat die individu geïnfekteer is
b. Die proses om teenliggaampies te vorm neem 'n sekere tyd. Daar bestaan dus "vensterperiode" waarin 'n individu wel geïnfekteer kan wees, en ook ander kan infekteer, maar steeds negatief kan toets. Nuwe navorsing wat tans by die Universiteit van die Witwatersrand gedoen word mag hierdie leemte oorkom.
c. By MIV toetsing beteken 'n "positiewe" uitslag dat die individu se liggaam teenliggaampies teen die MI-Virus gevorm is, en dat hy wel geïnfekteer is met die MI-Virus. 'n Negatiewe toetsing beteken dat die individu nie teenliggaampies teen die MI-Virus gevorm het nie. Dit kan dus beteken dat die individu nie geïnfekteer is nie, of dat die persoon nog in die vensterperiode is. Indien die moontlikheid van infeksie bestaan en die toets negatief is, moet hertoetsing dus aanbeveel word. "Vals Positiewe" resultate kom soms voor. Dit is dus baie belangrik dat enige positiewe resultaat bevestig word.
2.Die metodes gebruik by verkryging van die statistiek.
'n Wye verskeidenheid van metodes word gebruik om statistiek te verkry. Hier moet in gedagte gehou word:
a. Of werklike insidensie of beramings ter sprake is.
Navorsing en statistiek kan vir ons resultate gee wat op werklike toetse en insidensie binne binne 'n bepaalde steekproef van 'n sekere groep bepaal is (bv. National HIV And Syphilis Antenatal Sero-Prevalence Survey in South Africa) , of beramings wat vir die toekoms gemaak word op grond van bestaande kennis (bv. Actuarial Society of South Africa AIDS Demographic Model 2002)
b. Hoe persone se status bepaal is.
Daar bestaan verskillende metodes waarvolgens individue wat in 'n studie ingesluit is se MIV status bepaal word. Die mees onakkurate sal waarskynlik wees om die respondent te vra. Ander betroubare metodes sluit in die gebruik van die Elisa toets soos bv by die National HIV And Syphilis Antenatal Sero-Prevalence Survey in South Africa en die gebruik van speekseltoets soos by HIV and Sexual Behaviour Among Young South Africans: A National Survey of 15-24 year olds. Reproductive Health Research Unit. University of Witwatersrand. In sommige studies word daar ook gad nie toetsing gedoen nie, waar die doel van die studie bv is om persepsie van risiko te bepaal, bv. by die National Cross Sectional Study of Views on Sexual Violence and Risk of HIV Infection and AIDS Among South African School Pupils.
c. Hoe die toetsgroep geselekteer is. Dit is altyd belangrik dat korrekte seleksie metodes gebruik word om verteenwoordiging in enige steekproef te verseker. Om bloot bv die eerste 10 skoliere wat by die skoolhek uit loop se resultate te veralgemeen vir die skool, mag foutiewe resultate gee. Dit kan dalk juis die 10 seksueel aktiewe matrieks wees, of die 10 onkundigste graad sesse. Metodes moet dus gebruik word om ewekansigheid te verseker.
d.Hoe veralgemenings gemaak is . Veralgemening van statistiek kan slegs vir 'n groep gedoen word as die steekproef as verteenwoordigend beskou kan word wat seleksie van groep, aantal deelnemers en aard van deelnemers betref. Om dus bv die resultate van die HIV and Sexual Behaviour Among Young South Africans: A National Survey of 15-24 year olds, as verteenwoordigend van die hele bevolking te beskou, sou waarskynlik onverantwoordelik wees. Daar moet ook gelet word daarop of persentasies of werklike getalle ter sprake is.
3. Wanneer is die statistiek gepubliseer, en vir watter tydperk is dit bereken?
Veral in 'n groeiende pandemie soos by MIV infeksie, is dit krities dat die onlangste beskikbare statistiek aangehaal word. Die National HIV And Syphilis Antenatal Sero-Prevalence Survey in South Africa sowel as die AIDS Epidemic Update van UNAIDS word bv. jaarliks herhaal, en om 2001 se statistiek te gebruik sou sinneloos wees, behalwe waar vergelykings gemaak word. Dit is egter altyd belangrik om op te let na die datum, en dit ook in verwysings in te sluit. Dit is dikwels moeilik om die relevansie van 'n artikel of statistiek te bepaal as daar geen aanduidings van wanneer die studie of beraming gedoen is nie. Daar word bv dikwels in populere pers verwys na "Suid Afrika se 660 000 Vigswesies". Volgens AIDS Epidemic Update: December 2003 is daar egter reeds 1.1 miljoen kinders in Suid Afrika wat een of albei ouers weens MIV verloor het.B. Enkele Studies wat dikwels in Suid-Afrika aangehaal word rondom MIV en VIGS
Van die bekendste en mees gekwoteerde statistiek oor MIV en VIGS iword uit die volgende bronne verkry.
Dit is duidelik dat daar 'n magdom statistiese inligting oor MIV en VIGS beskikbaar is. Hierdie inligting kan 'n waardevolle bydrae lewer by die beplanning van 'n respons op die epidemie, en by die maak van ingeligte keuses. Dit is egter duidelik dat statistiek oordeelkundig en akkuraat gebruik moet word, anders bestaan die moontlikheid dat dit tot verwarring en wanpersepsies kan lei.
- UNAIDS, WHO. AIDS Epidemic Update: December 2003.
- Actuarial Society of South Africa. AIDS Demographic Model 2002
- Dorrington R E, Bradshaw D and Budlender D. HIV/AIDS Profile of the Provinces of South Africa: Indicators for 2002. Centre for Actuarial Research, Medical Research Council and the Actuarial Society of South Africa. 2002,
- 4.Department of Health. National HIV And Syphilis Antenatal Sero-Prevalence Survey In South Africa 2003.
- Nelson Mandela Foundation, HSRC. Study of HIV/AIDS: South African National HIV Prevalence, Behavioural Risks and Mass Media - Household Survey (2002)
- Medical Research Council, Department of Health .The 1st South African National Youth Risk Behaviour Survey 2002.
- Reproductive Health Research Unit. University of Witwatersrand . HIV and Sexual Behaviour Among Young South Africans: A National Survey of 15-24 year olds.
- SABCOHA The Economic Impact of HIV/AIDS on Business in South Africa. 2003.
- CIET. National Cross Sectional Study of Views on Sexual Violence and Risk of HIV Infection and AIDS Among South African School Pupils. 2004
- Nelson Mandela Foundation. HIV Risk Exposure in 2--9 year-olds in the Free State. A Study of 2-9 year olds Served by Public Health Facilities in the Free State, South Africa. 2005
- HSRC, Education Labour Relations Council. Study of Demand and Supply of Educators in South African Public Schools. 2005
Artikel deur
L.van Rooyen, CARIS.




