Want Aan U Liefde is Daar Geen Einde Nie.

Hemelse Vader, ons buig voor u in eerbied en aanbidding.
Ons prys U, Here Jesus, dat U na die wêreld gekom het, sodat ons kinders van God kan word – erfgename van die ewige lewe.
Heilige Gees, ons loof U as ons Trooster en ons Leidsman op die pad van geloof
… want aan U liefde is daar geen einde nie.
Ons vra U, Here Jesus, U die bewerker van ons verlossing, skenk asseblief wysheid en insig aan die navorsers, die wetenskaplikes en die tegnici wat soek na ’n geneesmiddel vir VIGS en verwante siektes
… want aan U liefde is daar geen einde nie.
Wees by hulle – gee deursettingsvermoë - seën hulle pogings met sukses,
sodat daar vreugde kan kom vir so baie wat tans sonder hoop en uitsig is,
sodat daar lewe kan kom vir hulle wat die dood in die oë staar
… want aan U liefde is daar geen einde nie.
Genadige God, ons dink vandag aan hulle wat siek is,
veral die persone wat ly as gevolg van HIV-infeksie en VIGS
… want aan U liefde is daar geen einde nie.
Gee hulle die moed om saam met hierdie siektetoestand te lewe.
Help hulle om hulle vrese te erken en te oorwin.
Wees met hulle wanneer hulle alleen en verwerp voel.
Troos en bemoedig hulle wanneer hulle sonder hoop voel.
Raak hulle aan , o Heilige Gees, sodat hulle lewe kan vind in die lewe wat U aan hulle wil skenk – die ewige lewe
… want aan U liefde is daar geen einde nie.
Heilige en lewe-gewende God, vul ons harte en gedagtes met U liefde,
en troos ons broers en susters, ook die kinders, wat elke dag lewe saam met iemand
- ’n familielid, ’n vriend of vriendin, wat HIV–positief is, of reeds VIGS het
… want aan U liefde is daar geen einde nie.
Bind ons saam in ons pogings om om te sien na hulle behoeftes.
Help ons om getrou te antwoord op die roeping as U dissipels om die Evangelie uit te dra in woord en daad.
Verwyder vrees en vooroordeel en haat uit ons midde
… want aan U liefde is daar geen einde nie.
Hemelse Vader, vergewe ons gebrek aan aktiewe reaksie op hierdie epidemie
– op die noodkreed van mense wat wat ons nodig het.
Vul ons met U liefde en deernis, en maak ons draers van U hoop
… want aan U liefde is daar geen einde nie.
AMEN




