Wie en Wat is die Christen Vigsburo (CABSA). 11/05/2007
'n Kort PowerPoint aanbieding oor CABSA is hier onder beskikbaar
Agtergrond
Die Christen Vigsburo vir Suidelike Afrika te Hugenote Kollege (CABSA) is in Julie 2001 met 'n duidelike visie en missie gestig om kerke en geloofs-gemeenskappe in hulle respons op MIV en vigs te begelei deur voorsiening van inligting, sensitisering, mobilisering en die bevordering van netwerke. So word die visie van 'n versorgende Christengemeenskap wat hoop en versoening bied aan mense wat met MIV en vigs leef en direk daardeur geaffekteer word, nagestreef.
Na ses jaar van dienslewering het hierdie visie nie vervaag nie en is dit stewig gevestig op 'n Bybelse basis wat bou op die Ou Testamentiese begrip van vrede en die Nuwe Testamentiese visie van die Koninkryk van God. Ons is meer oortuig as ooit dat Christene en kerke 'n Godgegewe verantwoordelikheid het om die uitdagings van die vigspandemie in die oë te kyk en nie te ignoreer nie.
CABSA bestaan ter wille van mense wat met MIV en vigs leef en direk daardeur geaffekteer word. Dit is nie “hulle daar buite” nie. Dit is “ons”, want ons word almal deur MIV en vigs geraak.
Vermoëns en eienskappe
Besonderse vermoëns binne die organisasie maak van CABSA 'n unieke rolspeler op die vigsterrein. Onder ons kernbates tel die versamelde inligting wat deur databasisse beskikbaar gestel word en die "Kerke, Kanale van Hoop" program. Ons het die bewese vermoë om opleidingsprogramme te ontwikkel, komplekse inligting verstaanbaar te kommunikeer en te help om netwerke en samewerking te versterk. Ons is administratief gevestig.
CABSA ondersteun Christen gemeenskappe in hul hantering van die vigspandemie. Ons benader hierdie komplekse pandemie binne 'n Bybels-gefundeerde denkraamwerk. CABSA gee prioriteit aan talle kwessies, byvoorbeeld: afwesigheid van Christelike waardes, stilte, armoede, stigma, diskriminasie, geslagskwessies, kwesbaarheid van kinders en vroue, strategieë vir betrokkenheid in versorgingsprojekte en voorkomingstrategieë.
CABSA is 'n projek van die Hugenote Kollege op Wellington en funksioneer met 'n Beheerraad wat saamgestel is uit lede vanuit verskeie invloedsfere.
Die personeel word klein gehou ter wille van finansiële verpligtinge.
Nelis du Toit: Bestuurder
Lyn van Rooyen: CARIS Projekbestuurder
Aneleh Fourie-Le Roux: Opleiding en Mentor Koördineerder (deeltydse kontrak)
Meloney Goliath: Administratiewe Assistent
Gekontrakteerde persone word gebruik vir projekte. Onder ons medewerkers is 'n spesiale groep mense wat met MIV en vigs leef en gewillig is om hulle verhale te deel.
Waarom CABSA bestaan
Dringende probleme en behoeftes
Ten spyte daarvan dat MIV in 1981 medies bekend geraak het, woed die pandemie voort en neem dit skrikwekkende afmetings aan. Terwyl arm gemeenskappe die swaarste getref word, spring geen gemeenskap vry nie. Daarom is dit ontstellend dat in die kerke van Suider-Afrika die situasie dikwels nog die volgende is:
In plaas daarvan dat Kerke en Christen gemeenskappe 'n antwoord op die vigspandemie bied, dra hulle by tot die probleme wat die pandemie kenmerk.
Om van hierdie situasie te groei na versorgende Christen-gemeenskappe wat versoening en hoop aan MIV-geïnfekteerde en –geaffekteerde mense bedien, het kerke die volgende nodig:
CABSA spreek hierdie probleme en behoeftes aan
CABSA se begeleiding en ondersteuning van kerke en geloofsgroepe in hulle response op MIV en vigs fokus op die aanspreek van die probleme wat kortliks hierbo geskets is. Ons kernaktiwiteite word rondom die volgende vier doelstellings beplan:
-
Inligting voorsiening
-
Sensitisering
-
Mobilisering en
-
Netwerk skepping
Hierdeur lewer CABSA 'n bydrae daartoe dat Kerke en Christen gemeenskappe hulle God-gegewe roeping te midde van MIV en vigs sal uitleef. Deur ware sout en lig vir 'n stukkende gemeenskap te wees, sal die Koninkryk van God gedien en God verheerlik word.
Kern aktiwiteite van CABSA
Inligting voorsiening
Algemene inligtingsdienste
CARIS (Christian AIDS Resource and Information Service)
CARIS is die inligtingsprojek van CABSA, met Lyn van Rooyen wat as projekbestuurder by die Fontainebleau Gemeenskapskerk in Johannesburg gebaseer is. CARIS funksioneer deur:
o 'n Plaaslike inligtingsentrum by die Johannesburgse kantoor, wat oor 'n verskeidenheid bronne oor MIV en vigs beskik
o Die ondersteuning van nuwe inligtingsentrums deur kerke of organisasies by ander sentra in Suider-Afrikao 'n Aktiewe webblad http://www.cabsa.org.za/ wat weekliks opdateer word. Besoeke deur internetgebruikers het van 131 in September 2004 konstant gegroei tot 'n gemiddeld van 5,105 per maand vir Januarie tot April 2007. Die webblad beskik oor drie databasisse wat danksy veelvuldige soekfunksies benut kan word. Hierdie databasisse groei deurentyd, en bestaan in Mei 2007:
-
'n Databasis van meer as 3,850 inskrywings van MIV en vigs materiaal en publikasies
-
'n Databasis oor 338 Christen-spesifieke MIV en vigsprojekte
-
'n Databasis met 186 preke, waaronder preekwenke in Afrikaans.
Sensitisering
Bewusmaking bly noodsaaklik
Dit is reeds 26 jaar sedert vigs as 'n terminale sindroom geïdentifiseer is. Die media berig gereeld oor die stygende infeksiekoers, maar tog ervaar CABSA steeds hoedat mense en ook gemeentes bewus gemaak moet word oor MIV en vigs en verwante kwessies. Sensitisering is gerig op die verandering van mense se houdings daaroor, veral teenoor mense wat met MIV leef of direk daardeur geraak word. Om gemeentes MIV-vriendelik en betrokke by voorkomende of versorgende programme te maak, is 'n langtermyn proses van bewusmaking en houdingsverandering.
Ondervinding wys dat die sensitisering van gemeentes slegs slaag wanneer die leierskap sensitief raak vir kwessies rondom MIV en vigs. Daarom fokus CABSA op leiers.
CABSA is opgewonde oor die vestiging van 'n Vigstaakgroep van die NG Kerk (Wes- en Suid-Kaapland) en VG Kerk (Kaapland). In samewerking met hierdie Vigstaakgroep kry CABSA die geleentheid om binne die strukture van die NG kerkfamilie betrokke te wees. Daar is al verskeie inligtingstukke op hierdie manier onwikkel en beskikbaar gestel.
Mobilisering
Kerke, Kanale van Hoop
Die “Kerke, Kanale van Hoop” program en materiaal is deur Christo Greyling en Logy Murray ontwikkel. CABSA is die eienaar van hierdie effektiewe program om gemeentes en geloofsgroepe oor MIV en vigs te mobiliseer. Die Anglikaanse Kerk het dit reeds met vrug implimenteer, terwyl World Vision International en Operasie Mobilisasie dit na verskeie Afrikalande en ander kontinente neem.
CABSA lei fasiliteerders op tydens 'n vyfdag, indiepte opleidingsprogram. Kursusgangers verdiep hulle kennis oor die temas wat hulle tydens werkwinkels en met inligtingsessies sal aanbied. Belangrike kwessies, soos byvoorbeeld stigma, geslagsrolle, holistiese waardegebaseerde voorkomingsprogramme en betrokkenheid in versorging word bespreek. Dit geskied binne 'n Bybelgefundeerde raamwerk vir 'n Christen respons. Fasiliteerders word volgens opgestelde riglyne evalueer en ontvang omvattende fasiliteringsmateriaal.
So word fasiliteerders opgelei en bemagtig om in hulle eie gemeenskappe regdeur Suider-Afrika leiers op die vigsterrein te wees. CABSA het reeds 300 persone opgelei.
Mentor van opgeleide fasiliteerders
CABSA is terdeë bewus van die behoefte om fasiliteerders na hul opleiding verder te ondersteun. Hoewel ondersteuning 'n duur program is, is reeds begin om 'n mentorprogram te ontwikkel. Die eerste stappe om hierdie program te implimenteer is in 2006 geneem. Hierdie program sluit die volgende in:
Netwerk skepping
Formele bande deur 'n “Memorandum of Understanding” bestaan met die volgende:
-
Anglican Church of Southern Africa though the HIV and AIDS Office
-
Calvyn Protestantse Kerk van Suid-Afrika
-
CLF Vigstrust
-
Fontainebleau Gemeenskapkerk
-
Gekombineerde Kommissie vir Diakonaat van die NG Kerk (Wes- en Suid-Kaap) en die VG Kerk (Kaapland)
-
Kommissie vir Vrouelidmate: Wes- en Suid-Kaap
-
Morawiese Kerk
-
PRISMA (Hollandse netwerk organisasie)
-
World Vision International
-
“Agreement to participate in the Christian HIV/AIDS Consultative Process”
-
“Agreement to cooperate with the Ecumenical Advocacy Alliance”
-
“Teeming Agreement with WVSA”
-
Lid van PACANet
-
Lid van Welvisi
-
African Leadership Institute for Community Transformation (ALICT)
-
Africa Upper room Ministries
-
“Buro vir Voortgesette Teologiese Opleiding en Navorsing” (BUVTON)
-
Bybelmedia
-
Christian Medical Fellowship
-
Hospivisie
-
King Fisher Mobilisasie Sentrum
-
Methodist Church of Southern Africa (MCSA)
-
Operation Mobilization (OM)
-
Southern Africa WCC-EHAIA
-
Strategies for Hope
Voortgesette dienslewering deur CABSA
Finansiële volhoubaarheid en bestuur
Die eerste ses jaar van dienslewering is moontlik gemaak deur 'n verskeidenheid van donateurs en is 'n verhaal van hoe God voorsien het. Daar is instansies en individue wat op gereelde basis bydra en verskeie gemeentes neem jaarliks kollektes op. Hierdie bydraes word met groot waardering ontvang.
CABSA het 'n volhoubaarheidsfonds wat as reserwe vir veral salarisse dien. Projekte word geïmplimenteer in verhouding met die beskikbaarheid van fondse.
Alle transaksies word gereeld te boek gestel en noukeurig gemoniteer. Ouditering geskied jaarliks vanaf die 2002 boekjaar. Inligting word in die Jaarverslag gepubliseer.
Resente geouditeerde state is op navraag beskikbaar. Detail begrotingsinligting word aan befondsers beskikbaar gestel wat 'n substantiewe bydrae wil maak.
Versoek aan potensiële ondersteuner
Met hierdie voorlegging nooi CABSA u om as mede-befondser met CABSA in verhouding te tree. Hierdeur sal u in die sensitisering en mobilisering van kerke en geloofsgemeenskappe investeer. U sal help om opleiding beskikbaar te stel wat niemand op grond van beperkte finansies uitsluit nie. U sal betrokke wees by die toerusting en bemagtiging van kerk- en gemeenteleiers om leiding in plaaslike gemeentes en gemeenskappe op die MIV en vigsterrein te neem.
Vir CABSA sal 'n verhouding met u die voordeel inhou dat daar voortgegaan kan word met dienslewering. Omdat CABSA as nie-profyt organisasie ander dien, sal befondsing tot voordeel van die persone, kerke en geloofsgemeenskappe wat CABSA dien, strek.
U sou CABSA op enige van die volgende wyses kon ondersteun:
o Finansiële ondersteuning wat gebruik mag word vir oorhoofse kostes (bv. telefone, kantoorhuur, salarisse). Dis moeilik om befondsing vir hierdie uitgawes te kry en daarom sal enige bedrag hiervoor baie welkom wees.
o Finansiële ondersteuning wat gebruik mag word vir die instandhouding en uitbrei van ons inligtingsdiens, naamlik CARIS. CARIS moet dringend 'n pos skep vir administratiewe hulp waarvoor 'n minimum bedrag van R7,000 per maand vir 12 maande benodig word.
o Finansiële ondersteuning wat gebruik mag word om opleiding van fasiliteerders te subsideer. Meeste persone wat aansoek doen om opgelei te word, kan nie meer as 10% van die opleidingskoste bydra nie. (Die opleiding geskied oor vyf dae en kursusgangers word vir die volle duur gehuisves.) Normale koste wat opleiding, materiaal, huisvesting en voedsel insluit, beloop R4,000 per persoon.
o CABSA sal enige ander voorstel vir substantiewe ondersteuning met graagte bespreek.
CABSA onderneem
CABSA sal fondse deur u toegeken, aanwend vir die doel waarvoor u dit bewillig. Ons sal graag jaarliks aan u verslag doen. Geouditeerde finansiële state sal op versoek voorsien word.
Meer inligting
Hierdie voorlegging is deur Nelis du Toit (Bestuurder – CABSA) voorberei. Ek kan by 021 873 0028 of 083 558 0153 of gekontak word. Ek sal graag enige vrae of voorstelle bespreek.
| Attachment | Size |
|---|---|
| CABSAinleiding.pps | 621 KB |




